Jeanette Ferreira
B.Hons, MA. (Pret), PhD (Rhodes), LAkadSA
Jeanette Ferreira is gebore op 20 April 1954 en word groot op die familieplaas Deerpark, naby Tzaneen in die Laeveld. Sy voltooi haar skoolloopbaan aan die Hoër Landbouskool Merensky en verwerf die grade BHons en MA aan die Universiteit van Pretoria, en PhD aan Rhodes Universiteit. Sy doseer Afrikaanse letterkunde aan verskeie Suid-Afrikaanse universiteite en word in 1993 tot medeprofessor bevorder. In die jare 1988 en 1989 is sy voorsitter van die Afrikaanse Skrywersgilde. Sy was vir tien jaar redakteur aan verskillende uitgewerye en later uitgeweryhoof.
Sy publiseer meer as twintig boeke in verskillende genres, ook ontspanningsliteratuur. Haar vroeëre kreatiewe werk het ’n sterk politieke inslag en sentreer om die demokratiseringsproses in Suid-Afrika, maar haar latere werk konsentreer op die groter mensliker vraagstuk van oorlog, in die besonder die drie romans wat oor die Anglo-Boereoorlog handel, Babette, Catharina en Charlotta. Die Universiteit van Johannesburg het in Julie 1999 Babette as ’n Engelse musiekspel aangebied met ’n speelvak van twee weke. Haar nuutste roman, Die son kom aan die seekant op, het in 2007 verskyn en handel oor Louis Tregardt se trek.
Dr. Ferreira resenseer literatuur vir verskeie dagblaaie en elektroniese blaaie. Tans is sy ’n vryskutredakteur, -keurder, -manuskripontwikkelaar en vertaler vir verskeie Suid-Afrikaanse uitgewerye. Sy is ’n lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Ferreira woon in Mtunzini, KwaZulu-Natal.
PUBLIKASIES
Romans, kortverhale en poësie
- Babette. 1995, Perskor/Maskew Miller Longman; 2006, Human & Rousseau (roman)
- Bly by my vannag. 1994, Perskor / Maskew Miller Longman (roman)
- Catharina. 1996, Human & Rousseau; 2006: Human & Rousseau (roman)
- Charlotta. 1999, Human & Rousseau; 2006: Human & Rousseau (roman)
- Daardie eerste somer. 1994, Perskor / Maskew Miller Longman (roman)
- Die mammies, die pappies, die hondjies, die katjies. 1989, Taurus / Human & Rousseau (kortverhale)
- Die onsterflikes. 1995, Human & Rousseau (roman)
- Die son kom aan die seekant op. 2007, Human & Rousseau (roman)
- ’n Man soos Charles. 1998, Perskor / Maskew Miller Longman (roman)
- Sitate om ’n rewolusie. 1985, Human & Rousseau (roman)
- Waar een mens saam is. 1980, Perskor / Maskew Miller & Longman (digbundel)
Samesteller, redakteur en outeur
- Boereoorlogstories (samest. en red.) 1. 1998, J.L. van Schaik; 2011, 2012: Tafelberg (kortverhale)
- Boereoorlogstories 2 (samest. en red.). 2012, Tafelberg (kortverhale)
- Grensoorlogstories (samest. en red.). 2012, Litera Publiksies. (kortverhale)
- Kruis en dwars (samest. en red.). 2001, J.L. van Schaik (kortverhale)
- Liefde loop ver (samest. en red.). 2000, Human & Rousseau (kortverhale)
- Op hulle stukke (samest. en red.). 2005, Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau (sketse)
- Vonk by verse 1 (samest. en red.). 2011, Best Books (poësie)
- Vonk by verse 2 (samest. en red.). 2011, Best Books (poësie)
- Vers en vlam (samest. en red.). 2016. Best Books (poësie)
Akademies
- Breyten: die simbool daar. 1985, Saayman & Weber (gepubliseerde weergawe van M.A.-verhandeling)
- Verskeie artikels in wetenskaplike tydskrifte