P.G. du Plessis: Hy was ’n rukkie pagter hier. ’n Huldiging
Heilna du Plooy
P.G. du Plessis was ’n bekende televisiepersoonlikheid, skrywer, dramaturg, koerantredakteur en akademikus. Die essays in hierdie bundel belig verskillende kante van sy menslikheid, en sy veelsydige kunstenaarskap wat met die Hertzogprys bekroon is. Dis fassinerende leesstof en ’n ryk bron vir navorsers.
ISBN 978-1-920188-54-2
OMSLAG Volkleur gelamineerde sagteband met invouflappe weerskante
BLADSYE 360 in swart-wit met fotoseksie (onderhewig aan verandering)
PRYS R385
Verskyninginsdatum April - Mei 2019
Francois Bekker. on Netwerk24 wrote:‘Kritiek het PG kwaad gemaak’
P.G. du Plessis Nuwe boek oor hom sien die ligBeeld11 Jun 2019Susan Cilliers
’n Uittreksel uit P.G. du Plessis se laaste roman, wat hy nie voor sy dood in 2017 voltooi het nie, kan nou vir die eerste keer gelees word in ’n nuwe boek wat pas verskyn het.
Litera Publikasies en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het die huldigingswerk P.G. du Plessis: Hy was ’n rukkie ’n pagter hier die afgelope week in Potchefstroom bekend gestel.
Prof. Heilna du Plooy, letterkundige en samesteller van die boek, sê die boek se titel kom uit ’n onderhoud wat sy met Du Plessis gevoer het enkele maande voordat hy aan kanker dood is.
“Hy het gesê hy het sy eie grafskrif uitgedink en dit moet wees: ‘Hy was ’n rukkie ’n pagter hier.’ ”
Du Plooy meen Du Plessis het in sy leeftyd nie die erkenning gekry wat hy in letterkundige kringe verdien het nie omdat hy die akademiese wêreld as ’n betreklik jong man verlaat het en so veelsydig was dat hy hom nooit net op een terrein toegespits het nie.
“Hy was briljant en eintlik onderskat, maar hy was aan die ander kant as bekende openbare figuur volksbesit. Hy was ’n stoute kabouter wat reaksie uit mense wou kry.”
Du Plessis was in sy lewe akademikus, onderwyser, koerantredakteur en het vir die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) gewerk voordat hy heeltyds begin skryf het. Van sy werke is vir radio en TV verwerk, onder meer die bekroonde Fees van die ongenooides.
Die nuwe boek oor Du Plessis bevat onder meer biografiese inligting, asook Du Plooy se onderhoud met hom kort voor sy dood. Daarin is talle interessanthede oor sy kinder- en studentedae. Prof. Hans du Plessis, skrywer en akademikus, bring ook hulde aan Du Plessis, met wie hy goed bevriend was.
Daar is verskeie artikels oor Du Plessis se werk, wat baie toeganklik en interessant geskryf is, al is dit akademies van aard, sê Du Plooy. Dit sluit onder meer in ’n hoofstuk oor sy bekende klug ’n Seder val in Waterkloof, wat onder kwaai kritiek deurgeloop het omdat Du Plessis niemand daarin ontsien het nie.
“Ten spyte hiervan was dit sy gewildste stuk wat die meeste opgevoer is en nou nog vol sale trek,” het Du Plooy gister gesê.
“Die kritiek wat P.G. gekry het oor onder meer sy Sederwerk het meegehelp dat hy daarna begin wegbeweeg het van ernstige skryfwerk. Kritiek het hom kwaad gemaak.”
Du Plessis se werk Plaston: DNS-kind, wat ook baie kritiek ontlok het, word ook bespreek. Dit gaan oor ’n seun wat chemies geskep is en dan na ’n klein dorpie geneem word.
Ook Du Plessis se prosawerk, soos Koöperasiestories, wat later ’n TV-reeks geword het, word bespreek in ’n essay oor die beminde karakter Genis.
Die laaste afdeling van die boek is ’n uittreksel uit sy laaste, onvoltooide roman, Die bitter van olyf. Dit handel oor ’n boeregesin wat aan die begin van die 20ste eeu as bywoners by ’n ryk boer werk. Die bywonergesin het ’n hele paar kinders.
“Die ryk boer se kinderlose vrou vra dan sy wil een kind hê,” sê Du Plooy.
Die uittreksel begin waar die ma moet kies watter kind sy gaan weggee en hoe sy die kind voor die afskeid was.
P.G. du Plessis: Hy was ‘n rukkie pagter hier - n Avant-garde-skrywer wat sy tyd vooruit was
P.G. du Plessis: Hy was ’n rukkie pagter hier – ’n huldiging
Heilna du Plooy
Hy was ’n rukkie pagter hier is bestem om ook nuwe waardering vir sy oeuvre onder gewone, oftewel P.G. du Plessis se ‘slim lesers’, te verseker, skryf Francois Bekker.
Is dit wat die letterkunde betref ’n geval van “dom resensente en slim lesers” soos P.G. du Plessis dit genoem het?
Resensente is natuurlik nie altyd reg nie en die gemiddelde leser moet nie onderskat word nie. Heilna du Plooy se huldiging van P.G. du Plessis is nie ’n lewenskets van die bekende skrywer as sodanig nie, die enkele biografiese feite ten spyt.
Dit is ’n diepgaande waardering van Du Plessis se uitgebreide oeuvre en ’n korrektief wat betref aanvegbare waardeoordele wat vroeër oor sy werk gemaak is.
Twee van die inleidende hoofstukke deur Du Plooy verskaf interessante biografiese feite. Met N.P. van Wyk Louw se terugkeer uit Nederland om by Wits te doseer, neem P.G. “die grootste korrekte besluit” van sy lewe om onder Louw te gaan studeer (bl. 24).
Louw word ’n lewenslange vriend en mentor vir Du Plessis.
Sy vriend Hans du Plessis sluit die inleidende gedeelte mooi af met “’n Vriend anderkant die woord”.
P.G., soos hy in die volksmond bekend gestaan het, se veelsydigheid is legendaries. ’n Avantgarde-skrywer wat sy tyd vooruit was. Iemand wat op vernuftige wyse aktuele sake só kon aanbied dat gehore dit geniet het.
Daarby was sy werk nie dienstig aan die volksideaal soos voorgeskryf deur die elite nie.
P.G. se eerlike uitbeelding van die Afrikaner met al sy foute en vratte en om die karakters te laat praat soos rêrige mense praat, is ongelukkig nie altyd goed deur sogenaamde puur Afrikaanse kritici ontvang nie.
Omdat P.G. se oeuvre so veelvlakkig en omvattend is, volg Du Plooy as samesteller van die bundel ’n praktiese werkswyse. Sy dramas, verhale en TV- en rolprentwerk word in verskeie diepte-artikels onder die loep geneem deur kenners in die onderskeie genres.
Was P.G. se verhoogdramas onnodig eksegeties soos kritici beweer het? Wat dramatiese elemente betref, word P.G. se besondere aanvoeling vir dialoog, wat die belangrikste element van dié genre is, genoem. Aanvullend egter word daarop gewys hoe funksioneel die didascalia in veral Siener van die suburbs aangewend is om die boodskap oor te dra.
Iets gebeur egter veral ná ’n Seder val in Waterkloof toe dit volgens P.G. nie die nodige erkenning by die kritici ontvang nie. Daar kom ’n verwydering tussen hom en die establishment.
P.G. laat hom só uit oor sogenaamde “dom resensente”:
“. . . die verwagting van resensente, die skrywers oor boeke, hulle deur wie se hol koppe die heersende modewinde warrel van wat goed en kwaad is . . .” (bl. 121).
Ironies egter is die vele pryse wat P.G. wel ontvang het – wat twee Hertzogpryse insluit.
Ter wille van ’n objektiewer benadering van P.G. se drama-oeuvre spesifiek word die kwessie van literêre ontvangs teenoor die produksiegeskiedenis van sy dramas bekyk. Dit is niks minder as fassinerend nie.
Die speelvakke van byna al sy dramas getuig van fenomenale sukses. Neem ’n Seder val in Waterkloof wat Send for Dolly word as voorbeeld en die gewildheid van dié stuk in die Baxter (bl. 160).
Wat sy verhale betref, is die artikel deur Hein Viljoen oor Fees van die ongenooides (dié roman is met die Helgaard Steyn-prys bekroon – ’n prys wat literêre gehalte en verkoopsyfers in ag neem) by uitstek onderhoudend. Dit bevestig P.G. as virtuose romansier.
P.G. se televisiewerk en sy bydrae as baanbreker op hierdie gebied word ook onder die loep geneem. Dit is ’n medium waarvoor hy aanvanklik sy neus opgetrek het.
Weer eens is dit sy talent vir dialoog wat vir uiters geslaagde draaiboeke sorg. Ikoniese produksies sluit in Koöperasiestories en Mattewis en Meraai wat hy vir TV verwerk het.
Soos prof. Elize Botha dit in ’n brief aan P.G. stel: “Elkeen kies sy eie P.G.” (bl. 172).
Vir hierdie resensent is dit P.G. die causeur. Kan daar ooit weer iets soos ’n Spies en Plessie wees?
Onder die wonderlike stel foto’s wat ingesluit is, is daar die foto van ’n beeld uit hout gebeitel – van ’n man wat lees, wat paslik heet Bysiende. Ja, P.G. was ook beeldhouer!
As bonus word ’n uittreksel uit P.G se onvoltooide roman, Die bitter van olyf, ingesluit.
Hy was ’n rukkie pagter hier met sy akademiese inslag wat steun op literêre teorie, sal hopelik belangstelling onder ’n wye leserspubliek geniet.
Benewens dat studente en dosente dit akademies stimulerend sal vind, is die bundel bestem om ook nuwe waardering vir sy oeuvre onder gewone, oftewel P.G. se “slim lesers”, te verseker.
Hierdie huldeblyk deur Heilna du Plooy is nie net ’n verrykende leeservaring nie, dit maak ook ’n belangrike stelling. Die beoordeling van kreatiewe werk en kuns in die algemeen bevat altyd ’n element van subjektiwiteit.
Hy was ’n rukkie pagter hier bevestig die ereplek wat P.G. du Plessis in die Afrikaanse literêre kanon verdien.
■ Francois Bekker is ’n vryskutresensent van Pretoria.
‘‘ Die beoordeling van kreatiewe werk en kuns in die algemeen bevat altyd ’n element van subjektiwiteit.