Theresa Papenfus is ’n gebore Bolander en het op Worcester gematrikuleer.

Ná haar studies in tale aan die Universiteit van Stellenbosch is sy in 1975 as verslaggeefster
by Beeld in Pretoria aangestel.

Vanaf 1979 was sy voltyds ma vir haar drie seuns, terwyl kortverhale, sketse en artikels ook sporadies uit haar pen verskyn het. ’n Bundeltjie sketse, Adam se Probleemrib, het in 1980 by die uitgewery JL van Schaik verskyn. Hierna het sy ook vryskutwerk vir verskeie uitgewers gedoen.

In 1991 is sy aangestel as hoof van Fiksie en Niefiksie by JL van Schaik Uitgewers, Pretoria. Hier het sy die publikasie en bemarking van boeke in verskeie genres hanteer en in 1994 die gesogte Jan J van Schaik-toekenning vir uitnemendheid ontvang. In 2000 het sy haar eie onderneming, Litera Uitgewers, gestig.

Benewens die werk van gerekende skrywers het haar biografie Pik Botha en sy tyd in sowel Afrikaans as Engels by Litera verskyn (2010). In 2013 het haar werk vir Litera Uitgewers breër blootstelling ontvang deur die International Era Quality Award in Genève, Switserland.

Theresa Papenfus is lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Sy is ook lid van PEN Afrikaans.

Sy is getroud met dr. Awie Papenfus, ’n siviele ingenieur. In 2015 het hulle na Wes-Kaap verhuis.

Hulle woon in Somerset-Wes.


Theresa Papenfus met Pik Botha by die bekendstelling van Pik Botha en sy tyd en Pik Botha and his times,