‘Kritiek het PG kwaad gemaak’
P.G. du Plessis: Hy was ’n rukkie pagter hier. ’n Huldiging
‘Kritiek het PG kwaad gemaak’
P.G. du Plessis Nuwe boek oor hom sien die ligBeeld11 Jun 2019 – Susan Cilliers
’n Uittreksel uit P.G. du Plessis se laaste roman, wat hy nie voor sy dood in 2017 voltooi het nie, kan nou vir die eerste keer gelees word in ’n nuwe boek wat pas verskyn het.
Litera Publikasies en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het die huldigingswerk P.G. du Plessis: Hy was ’n rukkie ’n pagter hier die afgelope week in Potchefstroom bekend gestel.
Prof. Heilna du Plooy, letterkundige en samesteller van die boek, sê die boek se titel kom uit ’n onderhoud wat sy met Du Plessis gevoer het enkele maande voordat hy aan kanker dood is.
“Hy het gesê hy het sy eie grafskrif uitgedink en dit moet wees: ‘Hy was ’n rukkie ’n pagter hier.’ ”
Du Plooy meen Du Plessis het in sy leeftyd nie die erkenning gekry wat hy in letterkundige kringe verdien het nie omdat hy die akademiese wêreld as ’n betreklik jong man verlaat het en so veelsydig was dat hy hom nooit net op een terrein toegespits het nie.
“Hy was briljant en eintlik onderskat, maar hy was aan die ander kant as bekende openbare figuur volksbesit. Hy was ’n stoute kabouter wat reaksie uit mense wou kry.”
Du Plessis was in sy lewe akademikus, onderwyser, koerantredakteur en het vir die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) gewerk voordat hy heeltyds begin skryf het. Van sy werke is vir radio en TV verwerk, onder meer die bekroonde Fees van die ongenooides.
Die nuwe boek oor Du Plessis bevat onder meer biografiese inligting, asook Du Plooy se onderhoud met hom kort voor sy dood. Daarin is talle interessanthede oor sy kinder- en studentedae. Prof. Hans du Plessis, skrywer en akademikus, bring ook hulde aan Du Plessis, met wie hy goed bevriend was.
Daar is verskeie artikels oor Du Plessis se werk, wat baie toeganklik en interessant geskryf is, al is dit akademies van aard, sê Du Plooy. Dit sluit onder meer in ’n hoofstuk oor sy bekende klug ’n Seder val in Waterkloof, wat onder kwaai kritiek deurgeloop het omdat Du Plessis niemand daarin ontsien het nie.
“Ten spyte hiervan was dit sy gewildste stuk wat die meeste opgevoer is en nou nog vol sale trek,” het Du Plooy gister gesê.
“Die kritiek wat P.G. gekry het oor onder meer sy Sederwerk het meegehelp dat hy daarna begin wegbeweeg het van ernstige skryfwerk. Kritiek het hom kwaad gemaak.”
Du Plessis se werk Plaston: DNS-kind, wat ook baie kritiek ontlok het, word ook bespreek. Dit gaan oor ’n seun wat chemies geskep is en dan na ’n klein dorpie geneem word.
Ook Du Plessis se prosawerk, soos Koöperasiestories, wat later ’n TV-reeks geword het, word bespreek in ’n essay oor die beminde karakter Genis.
Die laaste afdeling van die boek is ’n uittreksel uit sy laaste, onvoltooide roman, Die bitter van olyf. Dit handel oor ’n boeregesin wat aan die begin van die 20ste eeu as bywoners by ’n ryk boer werk. Die bywonergesin het ’n hele paar kinders.
“Die ryk boer se kinderlose vrou vra dan sy wil een kind hê,” sê Du Plooy.
Die uittreksel begin waar die ma moet kies watter kind sy gaan weggee en hoe sy die kind voor die afskeid was.