Die Bom
Nic von Wielligh en Lydia von Wielligh-Steyn
Dekades lank het die wereld gegis oor Suid-Afrika en Die Bom. Die land het ses kernbomme in die geheim ontwikkel, maar hulle self vernietig. Geen ander land ter wereld het nog ooit sy eie kernwapens afgetakel nie. Hierdie is sover die volledigste opgaaf van Suid-Afrika se kernwapenvermoe, geskryf deur 'n kernfisikus wat sedert 1975 direk by die proses betrokke was. Saam met sy dogter Lydia von Wielligh-Steyn deel dr. Nic von Wielligh 'n hoogs leesbare en boeiende verhaal oor die atoommonster, en hoe hy getem is.
Tans uit druk uit
Meer oor die Skrywers:
Nic von Wielligh is in 1936 op Springs gebore. Hy matrikuleer in 1953 aan die Hoërskool John Vorster, Nigel, en verwerf die grade BSc in Fisika en Chemie (1956), MSc(1958) en DSc in Kern/Atoomfisika (1963) aan die Universiteit van Pretoria. Lees meer ...
Lydia von Wielligh is op 19 Desember 1962 in Durban gebore. Sy matrikuleer in 1980 aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool, Pretoria, en verwerf in 1984 ’n Honneursgraad in Frans aan die Universiteit van Pretoria behaal. Lees meer ...
Enkele uittreksels uit die boek: Lees meer ...
ISBN: 978-1-920188-47-4
BLADSYE: 576 pp met fotoseksies in kleur en swart-wit
OMSLAG: Volkleur gelamineerde sagteband met invouflappe
PRYS: R630.00
KATEGORIE: Niefiksie: Geskiedenis
Dr. Nic von Wielligh het die DSc in Kern/Atoomfisika in 1963 behaal. Hy was onder meer hoof van die Departement Fisika aan die Universiteit van Durban-Westville en hoofwetenskaplike by die SABS. In 1975 word hy by die Uraanverrykingskorporasie (Ukor) aangestel, en in 1985 in 'n bestuurshoedanigheid by die Atoomenergiekorporasie van Suid-Afrika (AEK).
Na Suid-Afrika se toetrede in 1991 tot die Kernsperverdrag kry Von Wielligh die verantwoordelikheid vir die implementering van IAEA-waarborge in Suid-Afrika, en in 1999 word hy raadgewer en tegniese adviseur by die Suid-Afrikaanse ambassade in Wene, Oostenryk. Daar skakel hy met die IAEA oor kwessies soos waarborge, kern- en radiologiese veiligheid, bevordering van die vreedsame aanwending van kernenergie, tegniese hulpprogramme aan ontwikkelende lande en ander sake. Sedert 2002 doen hy tegniese konsultasie vir staatsdepartemente oor aspekte rakende internasionale waarborge en verwante sake. Hy was jare lank lid van die IAEA se internasionale advieskomitee oor kernkrag en die implementering van waarborge, asook raadslid van die South African Council for the Non-Proliferation of Weapons of Mass Destruction. Von Wielligh is die skrywer van talle geklassifiseerde wetenskaplik publikasies. Onder sy internasionale publikasies tel Experience of an ex (de facto) nuclear-weapon state with the application of post-Iraq safeguards , aangebied tydens die 1994 Safeguards Symposium in Wene, Oostenryk.
Lydia von Wielligh-Steyn is 'n geakkrediteerde vertaler, ervare navorser, skakelbeampte en toergids, 'n gepubliseerde roman-en artieklskrywer en lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Sedert 2000 werk sy by 'n internasionale parfuummaatskappy in Johannesburg.
P.W. Botha het destyds besluit kernwapens was suiwer ’n afskrikmiddel en sou in die uiterste geval hoogstens takties – maar nooit strategies nie – aangewend word. Foto: Nardus Nel |RapportArgief
Enigiemand wat in die 1970’s en 1980’s al sy verstand gehad en in aktuele sake belang gestel het, sal onthou van al die gerugte in dié tyd oor allerlei klandestiene staatsprojekte, onder meer Suid-Afrika se kernwapenprogram en die ontwikkeling van missiele.
Die koerante het berigte gepubliseer oor vermoedens in die buiteland dat Suid-Afrika kernwapens in samewerking met Israel (en moontlik ook Taiwan) ontwikkel het, van satelliete wat in 1979 ’n geheimsinnige ligflits oor die Suid-Atlantiese Oseaan waargeneem het, van ’n ligte vliegtuig van die Amerikaanse ambassade wat ’n moontlike kerntoetsterrein in die Kalahari gefotografeer het.
Vroeg in die 1990’s het pres. F.W. de Klerk die aap uit die mou gelaat: Suid-Afrika het sedert 1980 ses kernbomme gebou en was besig met ’n sewende.
Sedertdien is die kernwapenprogram in verskeie studies uit verskillende hoeke belig, en in die proses is baie inligting geopenbaar. Tog het bepaalde aspekte van die program onderbelig gebly.
Bowendien, een element wat die meeste studies – darem nie almal nie – gemeen het, is dat hulle van ’n hoogmoedige morele podium af preek. Dit doen afbreuk aan hul geloofwaardigheid en historiese waarde.
Onlangs het ’n boek verskyn wat dié leemte vul. Dit is geskryf deur die kernfisikus Nic von Wielligh, wat sedert 1975 by die projek self en die beëindiging daarvan betrokke was. Hy is bygestaan deur sy dogter Lydia, wie se skryftalent duidelik is.
Die boek kan op twee maniere gelees word. Die eerste is om voor te begin en álles te lees. Dit sal die leser ’n tyd lank besig hou, want die boek is meer as 500 bladsye lank. Die Von Wiellighs wil hul lesers ten volle inlig, wat beteken dat die verhaal by die begin gehaal word – die eerste kernsplyting, die ontwikkeling van kernwapens in Amerika, die mislukte program in Nazi-Duitsland, die wyse waarop die Sowjetunie die Amerikaners ingehaal het, ensovoorts.
Hulle gaan ook uitvoerig in op die tegniese aspekte van hoe kernwapens inmekaarsteek en vreedsame kernenergie, maar hulle doen dit op ’n taamlik maklik verstaanbare manier. Die skrywers wy ook ’n hoofstuk aan hoe Pakistan sy kernwapens ontwikkel het met kennis wat in Nederland gesteel is.
Hulle sluit af met ’n beskouing van waar kernwapens en -energie tans in die wêreld staan. Maar die boek kan ook anders gelees word, want nie almal sal in dié uitgebreide ontledings belang stel nie. Sommige sal hoofsaaklik meer van Suid-Afrika se eie kernrol wil weet.
Die boek is gelukkig so saamgestel dat die hoofstukke wat Suid-Afrika se aandeel belig, taamlik selfstandig gelees kan word. En wat daaruit na vore kom, is ’n riller op sigself. Die skrywers het toegang gehad tot heelparty geheime dokumente, waaruit hulle uitvoerig aanhaal.Daaruit blyk dit dat al die feëverhale – anders kan ’n mens dit nie noem nie – wat in die 1970’s en 1980’s kwytgeraak is oor hoe Suid-Afrika se kernwapens ’n bedreiging vir die wêreldvrede sou wees, pure onsin is.
Dit blyk dat die weermag inderdaad ’n taamlik aggressiewe strategie voorgestaan het, maar dat pres. P.W. Botha niks daarvan wou weet nie.
Die kernwapens was suiwer afskrikmiddels en sou in die uiterste geval hoogstens takties – maar nooit strategies nie – aangewend word, was sy besluit.
’n Effense leemte in die boek is die onsekerheid wat Suid-Afrika se dubbelsinnigheid – die regering het strykdeur geweier om die bestaan van die kernwapens te erken of te ontken – onder sy vyande gehad het.
Dit is bekend dat dit gehelp het om te keer dat die Kubaanse magte die destydse Suidwes-Afrika in 1988 binneval, en dit sou die Von Wiellighs se boek ten goede gekom het as hulle iets daaroor gesê het.
Nietemin, Die bom lyk taamlik na aan die finale woord oor die saak. Dat dit feitelik en objektief geskryf is – sy dit met ’n tikkie (begryplike) trots op die Suid-Afrikaanse prestasies sowel voor as ná die besluit om die program te ontmantel – maak die boek des te waardevoller. Ten minste wys dit dat daar aspekte van die ou Suid-Afrika was waarop ’n mens trots kan wees.
Die bom hoort tuis op die boekrak van elkeen met ’n belangstelling in wat voor 1990 agter die skerms in Suid-Afrika gebeur het.
– Leopoldt Scholtz, onafhanklike kritikus, historikus en politieke kommentator. Beeld, Die Burger, Volksblad, Augustus 2014.
Dié kleurryke vertelling van Suid-Afrika se kernprogram laat ’n mens die land se innovasie waardeer, sê prof. Anna-Mart van Wyk.
Op 22 September 1979 registreer die Amerikaanse Vela-satelliet, spesiaal geformuleer om kernontploffings op te spoor, ’n voorval in die Indiese Oseaan naby Suid-Afrika se Prins Edward-eiland. Die dubbelflits wat waargeneem is, het gedui op ’n waarskynlike ontploffing van ’n atoombom van sowat drie kiloton en het ’n behoorlike geskarrel in Amerikaanse intelligensie-geledere veroorsaak, ten spyte van ’n gebrek aan radio-aktiewe neerslae in die atmosfeer en ander tekenende getuienis van ’n kernontploffing.Die kollig het dadelik op Suid-Afrika geval, gegewe dat dit in Suid-Afrikaanse gebiedswaters plaasgevind het en gerugte van ’n kernwapenprogram toe reeds geruime tyd in omloop was. Mettertyd is Israel ook verdink – alleen of in samewerking met Suid-Afrika. Weldra het ’n paneel van uitgelese wetenskaplikes, deur die Carter-regering aangestel om die voorval te ondersoek, bevind dat dit waarskynlik nie ’n kernontploffing was nie, hoewel “die moontlikheid nie uitgesluit kon word nie” (p. 156).
Hulle het die voorval onder meer toegeskryf aan ’n meteoriet wat die satelliet getref het. Die CIA, wat eers in Junie 2004 ’n geheime verslag met swaar maskering uitgereik het, het egter tot hul eie gevolgtrekking gekom: dat dit wel ’n ontploffing van ’n kerntoestel van minder as drie kiloton was, in ’n groot gebied en in bewolkte weer. Die sogenaamde Vela-voorval was nie die enigste wat konsternasie in die internasionale gemeenskap veroorsaak het nie. ’n Ander was die Kalahari-voorval in 1977. Op Sondagmiddag 14 Augustus 1977 het ’n ongemerkte ligte vliegtuig laag oor ’n afgesonderde terrein genaamd Vastrap gevlieg waar die weermag ’n militêre toetsterrein gevestig het as kamoeflering vir toetse deur die Raad op Atoomkrag. Die raad was van plan om ’n “koue” kerntoets op die terrein uit te voer.
Die terrein, met sy twee kerntoetsskagte van onderskeidelik 391 m en 216 m diep, was bykans voltooi toe die vliegtuig sy opwagting maak. Dit was duidelik dat inligting oor die terrein uitgelap is. Boere in die Kalahari het weliswaar toe reeds geruime tyd gesels oor die “atoomgate” – en iemand wou klaarblyklik verdere ondersoek instel.
Party bronne verwys na sowel Sowjet- as Amerikaanse satelliete wat oor die terrein beweeg en verdagte bedrywighede opgemerk het. Waaroor die meeste bronne saamstem, is dat die Sowjetunie daarvan bewus geword en die Amerikaners ingelig het wat weer ’n ongemerkte vliegtuig oor die terrein gestuur het.
Maar hoe het die Sowjetunie in die eerste plek geweet waar om te kyk? In ’n gesprek wat ek met die voormalige vlootkommodoor en Sowjet-spioen Dieter Gerhardt gehad het, het hy genoem hy het die gerugte gehoor in sy amptelike hoedanigheid as vlootskakeloffisier van Krygkor. Hy het besluit om die omgewing te besoek, maar aangesien hy geen amptelike rede sou kon gee om Vastrap self te besoek nie, het hy in siviele drag in die kroeë in Upington en omgewing gaan sit en luister hoe veral moeë konstruksiewerkers die bedrywighede by Vastrap bespreek. In Die Bom skryf die outeurs ook oor Gerhardt en die waarskynlikheid dat hy die Sowjetunie ingelig het wat die Amerikaners ingelig het.
Hoe die vurk ook al in die hef steek, uiteindelik het die ontdekking van die kerntoetsterrein tot hewige diplomatieke druk deur die Carter-regering in die VSA, die Sowjetunie en selfs Frankryk en Brittanje gelei.
Bogenoemde voorvalle is maar twee in ’n kleurryke verhaal van Suid-Afrika se kernontwikkeling wat in ’n lywige boek van 525 bladsye deur Nic von Wielligh en sy dogter Lydia von Wielligh-Steyn vertel word.
Ander belangrike gebeurtenisse kry ook uitgebreide aandag in ’n styl wat vir leke verstaanbaar is – soos die eerste selfonderhoudende kernkettingreaksie in Afrika – dié van die Amerikaans vervaardigde Safari-1- reaktor by Pelindaba – op 18 Maart 1965; die eerste selfonderhoudende kettingreaksie van die uniek Suid-Afrikaans ontwikkelde Pelinduna-reaktor, wat natuurlike uraan as brandstof gebruik het, op 30 November 1967; die ontwikkeling van ’n unieke uraanverrykingsproses wat in Januarie 1978 die eerste klein hoeveelheid hoogverrykte uraan geproduseer het; die bou van ses toestelle wat as kernwapens beskou kon word – met name soos Video/Melba en Hobo/Cabot; die aftakeling van hierdie toestelle tussen 1990 en Julie 1991; en die uiteindelike ondertekening van die Kernsperverdrag in Julie 1991.
Von Wielligh, ’n fisikus, se ervaring in hierdie era van Suid-Afrika se geskiedenis strek ver, veral in sy hoedanigheid as hoofwetenskaplike van die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS) en latere loopbaan by die Uraanverrykingskorporasie (Ukor) en die Atoomenergiekorporasie van Suid-Afrika (AEK). Hy het ’n uiters belangrike rol gespeel in die toepassing van waarborge van die Internasionale Atoomenergie-agentskap (IAEA) ná Suid-Afrika se toetrede tot die Kernsperverdrag.
Sedertdien was hy ook nou betrokke by advieskomitees verbonde aan die IAEA en hy gee raad aan plaaslike staatsdepartemente oor kernkrag en waarborge.
Hy skryf nie net oor sy eie wedervaringe nie. Dit is duidelik dat wye en intensiewe navorsing gedoen is om hierdie boek so omvattend moontlik te maak, met ’n vertelling wat begin by die ontwaking van atoomenergie tot wat bedoel word met isotoopskeiding, plutonium en hoogverrykte uraan, en die status quo van kernwapens, pres. Barack Obama van Amerika se “Nuclear Zero”-droom en die Foekoesjima-ramp.
Uiteindelik lei die terugblikke na ’n vergange era ’n mens tot ’n waardering van die unieke innovasie wat in Suid-Afrika in verskeie aspekte van kernenergie aan die dag gelê is en wat in die moderne era moontlik tog weer neerslag kan vind in die soeke na ’n antwoord vir die huidige energietreurmare.
Prof. Anna-Mart van Wyk is hoof van die skool vir sosiale wetenskappe aan Monash Suid-Afrika en ereprofessor aan die skool vir historiese, filosofiese en internasionale studie aan die Monash-Universiteit.