Die Taal van Been
Heilna du Plooy
‘n Debuutroman deur Heilna du Plooy, bekende digter, literator en skilder oor onthutsende dinge wat onder die oppervlakte van ‘n gewone lewe sluimer. Dis meer as die storie van ‘n kunsdosent wat haar werk weens regstelaksie verloor. Dis meer ‘n speurverhaal met ‘n politieke onderbou, en meer as ‘n heel eiesoortige liefdesverhaal. ‘n Roman wat bly spook, omdat dit soveel groter is as wat die teks verwoord.
Meer oor die skrywer:
Heilna du Plooy is gebore in Pretoria en het grootgeword op Bronkhorstspruit en Alberton. Voorgraads studeer sy aan die PU vir CHO en voltooi haar BA Hons en MA aan die Universiteit van Pretoria. Sy behaal die DLitt aan die PU vir CHO met ’n proefskrif oor twintigste-eeuse verhaalteorieë. Lees meer ...
Enkele uittreksels uit die boek: Lees meer ...
ISBN: 978-1-920188-51-1
FORMAAT: 137 mm X 213 mm
BLADSYE: 192 pp swart & wit
OMSLAG: Volkleur gelamineerde sagteband, sagte afwerking (“soft touch”)
PRYS: R230.00
KATEGORIE: FIKSIE: ROMAN
Beslis 'n uiters leesbare boek waaroor 'n mens nog baie lank loop en dink. Ek gaan dit weer en weer moet lees om nog meer te wete te kom van die verskuilde en verstoke inligting - veral in soverre as wat daar lae en lae te vinde is. - Dr Marina van Loggerenberg
Heilna du Plooy is veral bekend in akademiese kringe as gesoute dosent en navorser in Afrikaans en Nederlandse letterkunde,= maar het onder meer reeds ’n aantal kortverhale en vertalings asook drie digbundels gepubliseer.
Du Plooy se proefskrif oor 20ste-eeuse verhaalteorie word steeds deur navorsers en akademici as baanbrekerswerk beskou.
Haar eerste roman, Die taal van been, het pas verskyn. Hierdie roman is ’n speurverhaal wat sterk aansluit by die Deense skrywer Karen Blixen se kortverhaal “The Old Chevalier” uit haar bundel Seven Gothic Tales wat in 1934 onder die skrywersnaam Isak Dinesen gepubliseer is.
Daar is interessante raakpunte tussen Blixen en Du Plooy se verhaallyne raak te lees, maar tog staan Du Plooy se roman op sy eie bene.
Carolien du Plessis is ’n kunsdosent en kunstenaar wat haar tydelike pos by die universiteit weens “rasionalisasie” kwyt is.
Haar liefde vir kuns en die akademie was die kruk waarmee sy jare lank van haar rol as onderdanige vrou en moeder kon ontvlug. Skielik bevind sy haarself by ’n kruispad en moet sy besluite oor haar toekoms neem. Carolien het egter ’n geheim wat sy jare lank met niemand gedeel het nie. En haar verlede is stadig maar seker besig om haar in te haal.
Die speurverhaal begin met ’n onbekende skedel wat op ’n televisieprogram vertoon word. Die leser word blootgestel aan die wetenskaplike werkwyse rondom die rekonstruksie van skedels. So kruis Carolien se pad met die joernalis Amanda Louw, wat dadelik ’n lekker nuusbrokkie ruik.
CAROLIEN HET EGTER ’N GEHEIM WAT SY JARE LANK MET NIEMAND GEDEEL HET NIE
Carolien en Amanda gaan op ’n speurtog om die identiteit van die onbekende skedel uit te vind.
Mettertyd besef Carolien egter dat haar verlede moontlik ontbloot kan word. Die ontploffing by Marion se woonstel en die aantreklike man wat onverwags by die woonsteldeur sy verskyning gemaak het, laat Carolien met meer vrae as antwoorde.
Du Plooy hou die leser deurentyd aan die raai oor wat werklik die geskiedenis van die geheimsinnige skedel is. En boonop is daar die verhaal van Marion en Jean se kinderdae wat op interessante wyse by die narratief eïnkorporeer word. Talle vrae ontstaan oor Marion se verlede en die ontploffing by haar woonstel. En waarom het Jean haar ná al die jare kom opsoek?
Wanneer Jean se pad met dié van Carolien kruis, word Carolien deel van ’n politieke spel wat haar lewe onherroeplik verander. Du Plooy se poëtiese skryfstyl slaag daarin om ’n uiters subtiele dog onderdrukte erotiese interaksie tussen Carolien en Jean teweeg te bring. Dit het my egter laat wonder of die nieseksuele interaksie tussen Carolien en Jean realisties is, gegewe die besonders intieme aard van ander oomblikke wat hulle gedeel het.
Verdere temas wat die roman interessant maak, is die verwysing na kuns, verlies, misdaad, diaspora en drome.
IN LAASGENOEMDE OPSIG IS DAAR ENKELE TEMATIESE RAAKPUNTE MET INGRID WINTERBACH SE ROMAN DIE BENEDERYK.
Du Plooy as visuele kunstenaar besit duidelik ’n deeglike kennis van kunsteorie asook ’n aanvoeling vir die praktiese aspekte verbonde aan kuns. Die beskrywing van die tekenproses is heel insiggewend. Die leser kry opnuut respek vir die kunstenaarsberoep.
Du Plooy se skryfstyl is poëties en besonder beskrywend van aard. Die tempo is gevolglik ’n slakkepas en die eerste helfte van die roman is met tye moeilik om te lees. Dit verg noue konsentrasie: Lesers wat na vinnige leesgenot soek, mag heel moontlik hierdeur afgesit word. Nietemin is dit die moeite werd om hierdie spanningsvolle roman tot aan die einde te lees.
Die roman se voorblad verdien vermelding. Daniël du Plessis se ontwerp met Du Plooy se tekening het ’n kunswerk in eie reg geskep.
Dit is egter teleurstellend dat die teks nie beter geredigeer is nie. Drie tikfoute (hoewel dit geensins afbreuk maak aan die inhoud nie) skep ’n swak indruk by ’n publikasie van hierdie gehalte.
DU PLOOY SE SKRYFSTYL IS POËTIES EN BESONDER BESKRYWEND VAN AARD
Hoe vitterig dit ook al mag voorkom, verwag lesers dat uitgewers die skrywer se werk respekteer deur te verseker dat onnodige foute nie tydens die redigeer, set- en of drukwerk inglip nie.
Du Plooy se speurroman is in vele opsigte anders as dié van skrywers soos Deon Meyer en Bettina Wyngaard. Die taal van been is ’n geduldige speurverhaal waarin daar oor elke woord besin is binne die raamwerk van die intrige.
Hier ontmoet aksie, spanning, poësie en taal mekaar op ’n gelyke speelveld. Die gevolg is ’n hoogs leesbare roman vir diegene wat die estetiese tesame met ’n lekker storie waardeer. - Dewald Koen is die departementshoof van Afrikaans aan die Kingswood College in Grahamstad.
Die taal van been is Heilna du Plooy se debuutroman. Du Plooy is bekend as digter en sekere temas uit haar drie digbundels kom weer hier voor – soos 'n bemoeienis met kuns en kunstenaars. Die hoofkarakter in Die taal van been, Carolien, is 'n skilder en die been onder die weefsel en vel speel 'n sentrale rol in die roman, wat herinner aan Du Plooy se gedig, "uit In die landskap ingelyf" (2003):
elke jaar is die beenstruktuur
'n aks meer sekuur afgeteken in die vorm van jou hande
jou gelaat, elke lyn van jou figuur
al dunner gaan die tyd ons puur
die raakvlak in, tot ragfyn vel
tussen die leegte en verlede
tussen begeerte en vertelBenewens onderliggende beenstrukture is tyd en herinnering ook belangrike temas in die oman, en sentraal, soos in hierdie gedig, staan die verhouding tussen mense. Soos die slotreël aandui, is die rol van vertelling as manier om sin te gee belangrik in Du Plooy se werk – ook in haar werk as akademikus waarin sy gefokus het op vertelteorie. In hierdie roman staan vertelling as manier waarop onthou word en waardeur sin gemaak word, sentraal.
Die taal van been is 'n ryk en sensitiewe roman – met veel aandag aan subtiele verskuiwings in verhoudings. Dit beteken egter nie dat daar uitsluitlik op fyn en sensitiewe emosionele verskuiwings gefokus word nie. Daar is ook aksie! 'n Ontploffing eis die lewe van die woonstelopsigter waar Carolien skilder, maar bring ook 'n raaiselagtige man vir wie die bom klaarblyklik bedoel was, in haar lewe. Hierdie onbekende wêreld van 'n magstryd onderliggend aan die land se politiek bied 'n misterieuse en spannende agtergrond.
'n Soeke na identiteit staan sentraal. Die forensiese polisie se pogings om mense se identiteit vas te stel deur gesigte op onbekende skedels te rekonstrueer deur 'n kombinasie van rekenaarmodelle, wetenskap en kuns, sluit aan by die poging van Carolien om juis die onderliggende been, die onderliggende struktuur van wat sy skilder, te ontdek. Sy is ook besig om haarself, haar kreatiewe identiteit (as vrou) te ondersoek.
Wat gebeur wanneer 'n vrou vasgevang voel in 'n lewe wat sy aan haar gesin gewy het en haar eintlike passie, om kreatief te leef, uitgestel of onderdruk het? Wat gebeur as só 'n vrou deur omstandighede met haar eie lewe gekonfronteer word en besluit om haar kreatiewe self te herontdek? Wat gebeur as sy in hierdie tyd ook 'n ander man as haar eie ontmoet?
Wanneer die politieke situasie in die land skielik nie meer 'n abstrakte idee is nie maar haar lewe ingrypend raak, neem Carolien bestek op van haar gelukkige huwelik, gelukkige gesinslewe en gelukkige werksomstantighede en besef dat sy iets van haar kreatiwiteit verloor het.
Haar besluit om haarself te herontdek en uit te leef klink positief, maar dit kom teen 'n prys. En dan word alles nog komplekser na die bomontploffing.
Dit is ook 'n roman oor kuns: oor die skilderkuns maar ook oor skryfkuns en musiek. Carolien is van mening dat die kunstenaars die meervlakkigheid van die wêreld waarneem en só goed begryp dat hulle iets daarvan kan weergee op 'n manier wat dit ervaarbaar maak. Die roman vra ook vrae oor die nut van kuns – juis in ons land en politieke omstandighede.
Kan 'n mens die "luukse"; van kuns bekostig in 'n land van hongersnood, vigs, armoede en geweld? Wat is die waarde van kuns dan werklik – veral as dit nie eens geld maak nie?
Die verband tussen skedels en onderliggende patrone en identiteit, word ook ondersoek aan die hand van die mitologisering rondom Mozart se skedel. Elke hoofstuk begin ook met 'n kort aanhaling uit 'n kortverhaal van Isak Dinesen (skuilnaam van die Deense skrywer, Karen Blixen, bekend vir Out of Africa en Babette's Feast). In die spesifieke verhaal, vertel die hoofkarakter van een nag wat hy (onwetend) saam met 'n prostituut deurgbring het en na wie hy die res van sy lewe bly soek het. Vyftien jaar na daardie nag het hy by 'n skildersvriend gesien hoedat hy 'n skedel skilder en dadelik vermoed dat dit die prostituut se skedel was. Du Plooy skuif al hierdie verhale slim oor mekaar. Ook die vertelling is slim, met berekende tydspronge en perspektiefwisselings wat sorg vir 'n volgehoue spanningslyn. Hoewel die speurriller nie heeltemal oortuig nie, is die sensitwiteit waarmee die verkilling en opwarming van Carolien en haar man se verhouding beskryf word, veral na die einde toe, roerend. - Willie Burger (In Vrouekeur)
Om dit wat verborge is te lees: Die taal van been deur Heilna du Plooy "Ons kan 'n skedel lees. Hy praat met ons in sy eie taal."
'n Vroulike akademikus en skilder in haar middel-vyftigerjare, Carolien du Plessis, sit in haar woonkamer en lees koerant en kyk "met die een oog" na 'n joernaalprogram op die televisie. Uit die weergawe van haar oppervlakkige waarnemings kan die leser tog aflei dat Carolien se fokus dié is van 'n kritiese waarnemer wat dieper as die oppervlak kyk en wat veral op vlakke en kleure ingestel is. Uit én die koerantberigte wat sy lees én die program word die aktuele sosiopolitieke situasie betrek en blyk trouens dat Suid-Afrika 'n land is waarin misdaad hoogty vier.
Een van die onderdele van die program is 'n insetsel oor die rekonstruksie van 'n skedel. 'n Kenner van die forensiese patologie, kaptein Pieter de Klerk, verduidelik die moeisame proses om eers die skedel te reinig van alles wat aanhangsel is totdat net die been oorbly. Daarna word die skedel weer ewe moeisaam gerekonstrueer totdat dit menslike kontoere vertoon en by wyse van spreke as teken heenwys na die afwesige mens.
Vervolgens toon De Klerk aan die kyker so 'n gerekonstrueerde skedel. Dit is die reste van iemand wat 'n slagoffer van 'n misdaad was, maar wat nooit geïdentifiseer kon word nie. Die soektog na die identiteit van so 'n skedel is inderwaarheid 'n speurtog.
Wanneer 'n mens so met 'n skedel besig is, raak jy egter bewus "van jou eie skedel onder jou eie gesig" (bl 13); dus jou eie sterflikheid. Al die bogenoemde motiewe speel later in die roman 'n belangrike rol.
Carolien merk met verbystering dat die opgeboude skedel sprekend lyk na 'n man wat sy 15 jaar tevore vlugtig ontmoet het. Sy wil daardie tyd liefs nie onthou nie, vanweë die onrussituasie in Suid-Afrika in die negentigerjare, omdat sy toe in 'n bestaanskrisis was, 'n gespanne verhouding met haar man gehad het én 'n besondere, hoewel kortstondige verhouding met die man wat sy glo sy herken, Jean, gehad het (bl 20). Oor die presiese aard daarvan het sy haar man ook nooit vertel nie en hy het dalk vermoed dat daar "dinge"; gebeur het "wat hy nie wil weet nie'.
Daardie nag droom Carolien opeens weer van die destydse traumatiese gebeure waarin 'n vrou gedood word in 'n mislukte aanslag op Jean se lewe. Nou word die twee ingekeepte vooraftekste waarmee die roman begin ook duideliker: die eerste is die feitelike weergawe van die gebeure wat in die droom afspeel en die tweede is 'n beskrywing van 'n man wat skynbaar as sluipmoordenaar verantwoordelik was vir die aanslag. Aan die einde van die roman is daar weer so 'n gemarkeerde teks wat die geheim van Jean se dood onthul, hoewel die leser dit reeds vroeg vermoed.
Carolien het vir Jean nooit teruggesien nie en die verdere verloop van sy lewe bly vir haar wel verhul. Wanneer die inligting waaroor die leser enersyds en die karakter of verteller andersyds verskil, ontstaan 'n situasie van spanning wat gewoonlik een is van 'n raaisel of 'n dreiging. In die roman word dit dikwels knap hanteer. Dit noop die leser om aan te hou lees ten spyte daarvan dat die speurtog stadig verloop. Weens hierdie raaisel bel Carolien die televisie-omroeper, Amanda Louw, om meer uit te vind oor die skedel en die plek en omstandighede van die vonds. So begin sy met haar eie speurtog na Jean se lotgevalle, maar ook na 'n moontlike verklaring vir aspekte van haar eie verlede. - Hennie van Coller
In die Afrikaanse letterkunde het Heilna du Plooy min bekendstelling nodig. Benewens digter is sy ook vertaler, akademikus en kenner van die verhaalteorie en het sy etlike artikels oor die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde gepubliseer. Hiermee in gedagte begin jy haar debuutroman lees, ook met inagneming van opmerkings deur twee literatore op die flapteks, naamlik dat dit “ ’n hoogs leesbare en sensitiewe roman” en ’n “opwindende teks” is.
Die motto van die roman is geneem uit ’n brief van die Impressionistiese skilder Berthe Morisot (1841-1895): “My ambisie is beperk tot die begeerte om iets vervlietends vas te vang, en tog oorskry dit alle perke.” Is dit selfrefleksiewe versugting aan die kant van die outeur? Dit skakel ook met die soeke van die hoofkarakter, Carolien, om iets sinvols in haar lewe te kan skep. Ons lewe, nes Carolien, in die tyd van Britse en Amerikaanse televisiereekse met forensiese kennis wat beendere van vermoordes opgrawe en bestudeer om sodoende die saak op te los.
Hierdie reekse is veral gewild onder diegene wat hou van sake uitpluis in die fynste besonderhede en die legkaart voltooi. In die roman word dit soos volg verwoord: “Die wetenskaplike kant. Die uiteindelike afloop van ’n ondersoek speel dikwels hier af. Dit is hier waar die misdadiger hom uiteindelik vasloop teen ’n slimmer teenstander, naamlik die wetenskaplike wie se gesig ’n mens nooit eens sien nie. Dit is hier waar die stemlose dinge begin praat en onsigbare dinge sigbaar word onder mikroskope en op rekenaarskerms.”
Die verhaal van Carolien se interaksie met die “taal van been” vind plaas toevallig wanneer sy na so ’n program sit en kyk en dit haar aan ’n insident uit haar verlede herinner. Die leser word stelselmatig van inligting voorsien om die skakel te maak tussen hede en verlede. Dit is ook hier waar die narratoloog Heilna du Plooy na vore tree en finaliteit uitstel ter wille van die spanningslyn. Die leser begin al speurende lees om al die gegewens byeen te bring. (Du Plooy se roman het my ook weer laat soek na my eksemplaar van Mary Roach se Stiff: The Curious Lives of Human Cadavers.)
Elke hoofstuk van Die taal van been word ingelei met ’n vertaalde gedeelte uit Isak Dinesen se verhaal “The Old
Chevalier”. Hierdie Dinesen-verhaal gaan oor ene baron Von Brackel en sy herinnering aan ’n nag saam met ’n prostituut jare terug. Die baron lê besoek af by ’n kunstenaar en besigtig ’n skildery van ’n skedel wat hom ontsettend baie aan sy beminde Nathalie laat dink. Hierdie teks word op slim wyse deur Du Plooy herskryf in ’n eietydse konteks – gaan lees maar self, want ek wil nie die verhaal verklap nie. Die “taal van been” het nie net betrekking op skedels en forensiese ondersoeke nie, maar verwys ook na die binnespraak en intiemste geheime van Carolien, wat, by wyse van spreke, ook alles oor haarself tot op die been verken.
Haar ervaring is ’n metaforiese bestekopname van die vrou se belewing en lewer kommentaar op kwessies soos regstellende aksie en die verlies aan goeie vriende wat emigreer ter wille van hul kinders se toekoms. As skilder en kenner van die kunsgeskiedenis vind sy ’n toevlug in haar skeppende werk, hoewel sy ook twyfel oor die relevansie daarvan binne die nuwe Suid-Afrikaanse konteks.
Haar man, Frans, probeer haar gerusstel deur te praat van “die groeipyne van ’n land in ’n oorgangsituasie”. Ontnugtering is aan die orde van die dag en sekerhede word ondermyn. Dit sluit aan by die waarskuwing voor in die boek aan die leser: “Hierdie verhaal is fiktief, en tog is dit die waarheid gelieg.”
Ondanks die wetenskaplike suggestie in die titel, vier die poësie hoogty in hierdie roman. Vergelyk byvoorbeeld die fyn waarneming en beskrywing in die volgende gedeelte:
“Dit het begin herfs word en as ek voor die ateljee se groot venster staan, kon ek sien hoe die jakarandas yler word. Later, aan die einde van die winter, sou daar net hier en daar oorblyfsels van die fyn blare soos flenters geskeurde gaas aan die takke klou. Ek het die lyne van die hoë takke reg voor die venster gevolg en allerhande patrone in die optes tussenin gesien, groot en klein driehoeke met golwende kante, ’n halfsirkel waarin ’n skerp hoek ingryp, ’n bykans perfekte vierkant.”
Die taal van been is ’n goeie toevoeging tot die Afrikaanse prosa. Du Plooy slaag goed daarin om interteks en teks te verweef sonder ’n uitstalling van tegniese verteltruuks.
Die roman bied aan die leser ’n ander soort CSI-teks – een waarin besin word oor die kuns, die vervlietende aard van die skeppingsdrif, herinnering en ’n subtiele impressionistiese blik op die interaksie tussen man en vrou. Ons het behoefte aan Carolien se ideologiese naïwiteit om te kan oorleef. - Marius Crous is medeprofessor in Afrikaanse letterkunde aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit in Port Elizabeth.