Spitstyd
Wilhelm Jordaan
‘n Keur uit Wilhelm Jordaan se gewilde koerantrubrieke van die afgelope twee dekades. Dié voormalige sielkundeprofessor laat jou nuut dink oor jou verhoudings.
Wilhelm Jordaan se stukke is weeklikse pitkos vir duisende koerantlesers. Die bekende akademikus se verwondering aan die lewe en sy wye verwysingsraamwerk inspireer joernaliste, skrywers, teoloë, akademici en ander wat oor dekades heen sy rubrieke in Beeld en Die Burger versamel het. Spitstyd verskyn ná versoeke uit vele oorde.
Meer oor die Skrywer
Wilhelm Jordaan het sy loopbaan as joernalis begin en uiteindelik ’n professor in sielkunde geword. Hy is jare lank ’n bekende en gewilde rubriekskrywer Lees meer ...
Enkele uittreksels uit die boek: Lees meer ...
ISBN: 978-1-920188-35-1
FORMAAT: 222 mm X 152 mm
BLADSYE: 198 pp
PRYS: R170.00
KATEGORIE: Niefiksie: Essays
Lesers skryf:
“Ek wil-wil soms mismoedig raak. Maar dan lees ek Wilhelm Jordaan se rubriek en my hart word ligter, ek kan verder sien as die meulenaar se tuin se grense en dit voel asof ek skielik weer ruimte het om wyer en dieper te dink.” - Esmarie Maré
“Soos ‘n hond waarvan die tong uithang, wag ek elke keer vir jou rubriek … Ek teer letterlik daarop, saam met die verkneukeling van en die verwondering oor ‘n uitstekende meester/ghoeroe en woordmeester.” - Johann Symington
“Te midde van wat ek beleef as ‘n dikwels kommerwekkende vervlakking van die joernalistiek, staan jou skrywes uit. Daar is ’n samehangende denkstruktuur, dis oorspronklik, dit getuig van ’n wye verwysingsraamwerk, die taal is pragtig en dit laat ’n mens dink.” - Marié Heese
In haar Voorwoord tot Spitstyd besin die digter en romanskrywer Joan Hambidge oor Jordaan se bydrae: “Hy skryf as ‘n lewenswyse mens wat konflik wil uitskakel. Hy bemiddel, hy verduidelik, hy gee raad … Hy is die een rubriekskrywer wat ‘’n ‘voice of reason’ oordra.” Hierdie bundel laat mens met dieper respek vir jouself, vir ander en vir die groter prentjie.
In 'n tyd soos ons s'n, waarin mense haastig dink en vinnig skryf, staan die weeklikse koerantrubrieke van Wilhelm Jordaan uit. En nou is daar goeie nuus vir mense wat aan sy rubrieke verslaaf is (en ook vir mense wat sy rubrieke nog nie ken nie): so pas het 'n keur daaruit verskyn onder die titel Spitstyd, in Pretoria uitgegee deur Litera. Die rubrieke staan uit deur die genuanseerde denke en die versigtige formulering; deur die verbinding van diepsinnigheid en eenvoud, van diepe erns en ligte humor, van liefde en ironie. 'n Mens sou as motto vir die boek die reëls kon gebruik van NP Van Wyk Louw, een van Wilhelm Jordaan se die gunsteling-digters: "eintlik moet 'n mens leer ironies lewe;/ én: binne ironie nog liefde hou"
In sy rubrieke gee Jordaan vir ons 'n spieël van ons tyd; maar meer as dit – hy kom ook uit by die tydlose, universele aspekte van mens-wees. Joan Hambidge noem hom in haar inleiding 'n "volksghoeroe"; en brei dan daarop uit: "Raad of antwoorde is daar nooit volledig nie, maar as wyse volksghoeroe verduidelik hy hoe ons moet reageer op pynlike of onverwagse ervarings wat 'n mens se lewe kan verander"
Een van die opvallendste kenmerke van Jordaan die rubriekskrywer is sy verstommende belesenheid. Hy is skerp bewus van die toegang wat die letterkunde tot die lewe bied; daarom dat hy, die sielkunde-professor, vir sy nagraadse studente 'n letterkunde-leeslys gee om deur te werk. Maar hy hou hom nie net besig met groot letterkunde nie; hy lees hoog en laag, haal aan uit koerante en tydskrifte, uit filosowe en digters – oral waar wysheid te vinde is. Wanneer iemand hom vra wie sy gunsteling-filosoof is, kom sy antwoord: AA Milne, die skrywer van Winnie the Pooh – en hy haal aan uit 'n gesprek tussen Pooh en Piglet. Piglet is elke dag op soek na nuwe, opwindende ervarings; vir Pooh bly die opwindendste ervaring steeds sy bekende daaglikse ontbyt. Dis belangrik om iets van Pooh sowel as van Piglet te behou, sê Jordaan – in "n wêreld vol onsekerhede moet ons die stabiliteit van sin-gewende tradisies koester, maar dít mag ons nie weghou van die opwinding van nuwe lewensmoontlikhede nie.
Die boek is in vier afdelings verdeel wat vier sentrale fasette van mens-wees dek, vier verhoudings van fundamentele belang vir "n gesonde psige: "Jy met jouself"; "Jy en die ander"; "Jy en die samelewing"; en "Jy en die Groot Misterie" Ek bespreek kortliks enkele van die rubrieke – kort genoeg om die lus te prikkel vir verdere lees aan hierdie heerlike boek.
In "Die baie gestaltes wat jy is"; word die moeilike kwessie van identiteit bespreek. Die mens speel soveel rolle, het so baie gestaltes, dat hy polifonies lyk, meerstemmig; dit lyk of die soeke na die "ware self"; 'n illusie is. Tog, sê die skrywer, soek die mens daarna om al die gestaltes saam te voeg "tot 'n klein harmonie, "iets" waarvan jy kan sê: Ja, dít is wel ek – deurlopend so van die wieg tot die gra" (9). Hier het ons dan een van die sleutelwoorde in die boek: "harmonie". Harmonie in die mens se verskillende verhoudings lyk na 'n sleutel tot geluk en wysheid.
"Is ons 'n intellektuele volk?" herhaal Jordaan die vraag wat NP Van Wyk Louw indertyd gestel het (73). Die antwoord neig vandag na "nee", meen hy – veral as in ag geneem word wat 'n intellektuele houding impliseer: "Om 'n intellektueel te wees, is om besit te word deur die passie om die "waarheid" van idees oor ons mensheid en manier van saamleef versigtig en moeisaam saam te stel uit baie soorte perspektiewe. En nie suur of bang te word as jóú "waarheid" nie seëvier nie" (74). In die lig hiervan waarsku hy teen universiteite wat "kennisbasaars" word, en teen die vervlakking wat beheptheid met die internet kan meebring.
Kenmerkend van die moderne Westers-georiënteerde samelewing is 'n diepgewortelde rasionalisme wat geloof moeilik maak en spirituele honger meebring. Daarom is die titel van een van die stukke: "Ek glo nie in God nie, maar ek mis Hom" (164). In hierdie pragtige rubriek bring Jordaan die verre God nader aan die alledaagse lewe, word God verbind met die sagte aanraking van 'n medemens, die simpatieke uitreik na 'n eensame. Die religieuse belewenis wat Jordaan voorstaan, is nie 'n religie waarin diegene wat anders glo, beveg word nie; hy glo: "In tradisionele én vernuwende spreke oor geloof kniel gelowiges opreg voor God. Langs mekaar en nie teenoor mekaar nie, met geboë hoofde; nie met gebalde vuiste nie" (190).
Dieselfde verdraagsaamheid en liefde spreek uit die stuk "Jesus vir ete". Die skrywer verbeel hom dat hy sy gunsteling-persone uit die geskiedenis vir 'n maaltyd kan uitnooi. Jesus is die eerste eregas, maar die skrywer sit ver van hom af; hy het allerlei twyfels – hy wil weet: "Het Jy regtig opgestaan?" Aan die tafel is daar, naas Jesus, ook plek vir Confucius, en vir die karakter Pi uit die roman Life of Pi, wat gelyktydig 'n toegewyde Moslem, Hindoe en Christen geword het. Die aand word afgesluit met die wonderbaarlike port van Allesverloren. En Jesus glimlag breed, miskien omdat hy van verlorenes hou. Spitstyd is 'n boek vir haastig koop en stadig lees – weer en weer lees, en herkou. Hierdie resensie deur Chris van der Merwe is oorspronklik geskryf vir die program Boekkeuse van Fine Music Radio.